Halfsewe op ’n Dinsdagaand kom jy vir die eerste keer by die huis nadat jy reeds vroeg die oggend daar weg is. Ná ’n uitmergelende dag op kantoor moes jy eers jou seun by sy rugbyoefening gaan oplaai en toe moes julle winkel toe jaag vir ’n nuwe paar skoolskoene. Nou begin jy met aandete en dan is dit tyd vir huiswerk, voor jy doodmoeg op die bed neerval . . .

Is dit moontlik om ’n balans tussen werk, kinders en jou eie behoeftes te vind? Christelle Fourie, ’n werkende ma van Kaapstad, en Simangele Mphahlele, ’n lewensafrigter van Johannesburg, deel hul raad.

Beplan, beplan, beplan

Christelle is nie net ’n enkelma van twee jong kinders nie; sy is ook besturende direkteur van ’n Kaapse versekeringsmaatskappy. Sy sê al hoe sy hierdie twee aspekte van haar lewe kan balanseer, is deur goed te beplan.

“Ek hanteer my privaat lewe soos ek my werklewe hanteer. Elke afspraak – van oueraande en eksamendatums tot haarafsprake – word by my kalender ingevoer.” So nie, kan dinge dol raak. “Ek voel baie bekwaam in my werk, maar as ek by die huis kom en my 11-jarige seun sê hy het volgende week ’n mondeling waarvan ek nie geweet het nie, is dit asof die stres onmoontlik raak om te hanteer,” erken Christelle.

Sy raai ander ma’s aan om die kalender wat skole aan die begin van die jaar uitdeel, deeglik te bestudeer sodat jy vroegtydig weet van belangrike datums op jou kind se skoolkalender.

Praat met jou werkgewer

As ouer moet jy seker maak die maatskappy waarvoor jy werk, verstaan jou verpligtinge teenoor jou gesin, sê Simangele. “Daar is baie maatskappye wat met fleksietyd werk en hulle meet jou aan jou produksie eerder as aan die tyd wat jy op kantoor deurbring.”

Praat met jou bestuurder oor jou behoeftes, raai Christelle ook aan. “As jy elke dag byvoorbeeld ’n ekstra halfuur kan werk, kan jy op ’n Vrydagmiddag vroeër huis toe gaan en jou kinders by die skool gaan haal.”

Dieselfde geld vir wanneer jou kind dalk siek word, voeg sy by. “Dit gaan baie moeilik wees om jou kind te versorg as jou werkplek nie respek het vir die feit dat jy ’n ouer is nie.”

Omskep alledaagse bedrywighede in gehaltetyd

Alledaagse dinge soos saam kos maak of huiswerk doen, kan baie waardevolle oomblikke in jou kind se lewe wees, sê Simangele. “Gebruik byvoorbeeld etenstyd om met jou kinders oor hul dag te gesels.”

Christelle help saans sowat ’n uur elk van haar twee kinders met hul huiswerk. “Ons gebruik dié tyd ook sommer om te gesels oor wat by die skool gebeur het. My kinders begin eintlik uitsien na huiswerk doen, want dis hul mamma-tyd,” vertel sy.

Dit gaan moontlik beteken dat jy sekere aktiwiteite soos televisie kyk sal moet opoffer, sê Simangele. “Dit neem gemiddeld twee uur van jou tyd in beslag – tyd wat jy maklik saam met jou kinders kon deurgebring het.”

Bou ’n ondersteuningsnetwerk op

Simangele en Christelle is dit eens dat elke werkende ouer ’n goeie ondersteuningsnetwerk nodig het. “Die steun van jou familie is belangrik as jy ’n balans wil handhaaf,” sê Simangele. “Jy kan byvoorbeeld reël dat jou kinders by hul niggie of nefie gaan kuier as jy tyd vir jouself nodig het.”

In jou gemeenskap is daar ook mense wat kan help. “Vandat my kinders baie klein was, het ek vriende gemaak met die ander mammas by hul skool,” vertel Christelle. “Baie van hulle werk nie en is baie gewillig om met byvoorbeeld ryklubs te help.

“Vra hulp as jy dit nodig het. Dan is dit nie so moeilik om alles te hanteer nie.”

Maak tyd vir jouself

Met so ’n besige program is dit belangrik dat jy ook tyd maak vir jouself en jou maat. “Kies spesifieke dae wat jy alleen saam met jou maat iets gaan doen,” stel Simangele voor. “Druk dan op vriende of familie se knoppie om na jou kinders te kyk terwyl julle met ’n geruste hart kuier.”

Soms beteken ek-tyd moontlik vroeg opstaan, sê Christelle. “Ek gaan byvoorbeeld soggens vyfuur gim toe omdat ek graag saans by my kinders wil wees. Dit is my manier van ontspan.

- Shané Barnard