Vin Diesel het ’n videohuldeblyk op Facebook gedeel ter ere van sy Fast & Furious-medester, Paul Walker, wat in November in ’n motorongeluk gesterf het.

Vin het die 18 minute lange video met van sy gunsteling-herinneringe aan Paul Dinsdag op Facebook gedeel. Daarin lag en skerts die onskeidbare sterre met mekaar tydens onderhoude en promosiewerk vir die Fast & Furious-flieks wat hul met die jare saam gemaak het.

Vin het met verwysing na hul karakters in die flieks geskryf: “’n Blik op Dom en Brian weg van die kameras.”

Die 46-jarige aksiester het sedert Paul se dood op 30 November saam met sy 60 miljoen Facebook-aanhangers getreur en vroeër vandeesweek in die roerende video-huldeblyk van hul streke saam onthou.

Hy skryf: “Daar was die keer toe ek en Paul gemaak het dat ’n perskonferensie in Los Angeles afgelas moes word. Ek dink dis die enigste keer in die geskiedenis dat ’n perskonferensie weens ’n ryery gesluit is. Haha, dit was die laaste keer dat die ateljee motors gehad het op ’n perskonferensie wat ek en Paul bygewoon het.”

Vin het ook sy aanhangers vir hul volgehoue ondersteuning bedank. “Julle was nog altyd ondersteunend, veral die afgelope twee maande. Daarom wou ek iets spesiaals deel waaraan ek in die nuwe jaar ter ere van my broer Pablo . . . Paul gewerk het.”

Kyk die video hier: