Vin Diesel is Maandag met ster no. 2 504 op die Hollywood Walk of Fame vereer.

Die ster van die Fast & Furious-flieks het ’n donkerblou pak gedra – ongewoon vir hom – en ingenome gelyk met die ligging van sy ster op ’n straathoek. Hy het gesê dat hy as ’n kind in Manhattan vir sakgeld op ’n straathoek hip-hop gedans het.

Vin (46) het vanjaar weer die rol van Dominic “Dom” Toretto in Fast & Furious 6 vertolk. Die sewende rolprent in die reeks word reeds vervaardig. Vin is ook te sien in die derde fliek in die wetenskapsfiksiesage Riddick, wat nou in rolprentteaters te sien is.

Vin, een van Hollywood se geliefdste aksie-rolprentsterre, was ook suksesvol in xXx. Vir sy volgende projek wil hy ’n rolprentweergawe vervaardig van Kojak, ’n televisieprogram uit die 70’s. Daarin het Telly Savalas die rol van die kaalkop speurder lt. Theo Kojak vertolk. Vin gaan ook ’n rol in die fliek hê.

– Sapa

sapalogo