Die Hollywood-aksieman is dalk bekend vir sy bultende spiere en taai rolprentrolle, maar hy is nie immuun daarteen dat mense sy lyf slegsê nie. Vroeër die maand het die 48-jarige die mense op Instagram aangevat wat iets oor sy voorkoms te sê gehad het nadat hy met ’n voller figuur gekiek is.

“Dis ’n spul negatiewe goed,” het hy suggend aan BBC se Newsbeat gesê. “Ek dink dit is eintlik verkeerd. Ek dink mense moet minder veroordelend wees en meer liefdevol.

“Jy hoor gedurig mense oor haters praat en mense verwerk haters verskillend. Ek kry mense jammer wat ander moet kleineer om beter oor hulself te voel.”

As een van die name in die bedryf wat die meeste in aanvraag is, is Vin bereid om bemarkingstoere te onderneem voor ’n nuwe rolprent uitgereik word. Hy deel ook baie met sy aanhangers op sosiale media, maar dink dis onaanvaarbaar dat die pers mense oor hul gewig aanval.

“Hulle doen dit ook vir wins en dis die donker kant van roem,” erken hy. “As jy dit genoeg aan mense doen, word hulle teruggetrokke . . . want hulle weet nie wie hulle probeer uitbuit of afrem nie.”

Maar wat die media ook al oor hom te sê het, keer nie dat hy aanlyn met sy vriende kommunikeer nie. Die kans om te praat met die mense wat sy rolprente geniet, weeg swaarder as enige negatiwiteit wat hy elders op die internet kry.

Vin geniet ook die terugvoer wat hy kry oor die rolle wat hy vertolk, onder meer die een van sy beroemde alter ego Dominic Toretto van die Fast and Furious-rolprentreeks.

“Ek kon ’n unieke verhouding met die gehoor hê wat ek glo die (Fast and Furious-) rolprente beter gemaak het,” sê hy glimlaggend. “Tydskrifte en sulke goed is nou ’n bietjie outyds, maar ek dink die meeste mense wêreldwyd is goeie mense.”

© Cover Media