Die dowe basterbrak Willow het ’n internetsensasie geword nadat sy besluit het om weg te loop van haar pleeghuis en polisiebeamptes die 11 maande oue hond opgespoor het.

Willow het nie ’n naamplaatjie aangehad nie en die wetstoepassers van Tarpon Springs het begin kopkrap oor hoe hulle dié hondjie terug aan haar eienaars gaan besorg.

Dit is toe dat hulle besluit om ’n nabyskoot van Willow te neem – presies soos hulle maak voor hulle ’n vermeende misdadiger in die aanhoudingselle toesluit – en dit aanlyn te plaas.

“Willow het geweier om vir polisiebeamptes te sê waar sy woon en is na die polisiekantoor gebring om toegesluit te word en foto’s van haar te laat neem,” het die polisie by ’n foto van die brakkie met die titel “FUGITIVE K9 CAPTURED" geskryf.

“Sy het mooi saamgewerk en was seker een van die vriendelikste gevangenes wat ons al aangehou het.”

Volgens die polisieafdeling het hulle besluit om die foto op te laai sodat hulle ’n glimlag op mense se gesig kon sit in die “gespanne tyd” wat die land en die polisiemag beleef.

Nadat die foto gedeel is, het ’n plaaslike dieresentrum Willow herken en iemand gestuur om haar “borgtog te betaal”.

Sy is toe herenig met haar pleegma, Amy Scarlett, wat gesê het Willow het dit reggekry om oor haar heining te spring.

“Hopelik is dit haar laaste oortreding,” het Amy laat hoor.

Amy en Willow het oliebolle vir die polisiebeamptes gevat en geskerts dat sy haar paroolvoorwaardes nakom om in te loer by die polisiekantoor.

Amy sê Willow se doofheid beïnvloed glad nie haar lewe nie en sy is ’n baie vriendelike brakkie.

Bronne: Metro.co.uk; Fox29