As jy ’n voorliefde het vir ’n soet, stroperige waatlemoen, sal jy binnekort gewoond moet raak aan ’n unieke weergawe van jou gunstelingvrug.

’n Boer in Japan het ná ’n tydsame proses van 30 jaar daarin geslaag om vierkantige waatlemoene te kweek; hy het die vrugte in bokse gegroei sodat hulle die vierkantige vorm aanneem.

Dié unieke vrugte word nou in Japan as ’n luukse lekkerny beskou, en mense van so ver soos Kanada en Rusland het ook al van die vrugte bestel.

As jy self die vreemde vrug wil beproef, kan jy ook een bestel, maar dit gaan ’n aardige bedraggie kos.

Die waatlemoene kos tussen R1 100 en R3 300, en in Moskou in Rusland was die waatlemoene so gewild, hulle is teen R9 460 verkoop.

- Buzzfeed