Noah het as fetus ’n seldsame siekte ontwikkel. Terwyl sy ma, Shelley, hom verwag het, het vloeistof in sy brein opgehoop en ernstige skade aan sy brein aangerig.

Die gesin het onlangs op die Britse televisiekanaal Channel 5 in die dokumentêr The Boy Who Grew A New Brain vertel hoe dit nou met Noah gaan.

Hul kleinding is beslis ’n wonderwerk. Shelley en haar man, Rob, is voor hul seun se geboorte vyf keer aangeraai om liewer haar swangerskap te beëindig, maar hulle het elke keer daarteen besluit.

Kort ná sy geboorte moes Noah talle operasies ondergaan. Dit was so suksesvol dat sy brein gegroei het in die ruimte wat vroeër met vloeistof gevul was.

Noah is ’n “merkwaardige seun met merkwaardige ouers”, sê sy neurochirurg, dr. Claire Nicholson van die Great North-kinderhospitaal in Newcastle.

Sy ousus, Steph (23), help ook graag met haar boetie se ontwikkeling. Hulle stimuleer sy brein voortdurend met “brein-opleiding”, soos die gesin dit noem.

“Hy gesels nou so baie en spreek sy woorde uit. Hy het ook begin skryf, hy volg my vinger en skryf sy naam. Dit was ongelooflik hoe hy met die pen konsentreer het; ek het nooit gedink die dag sal kom nie,” vertel sy ma in die dokkie.

Noudat Noah al tot by 10 kan tel, skryf en ’n paar woordjies sê, is die moontlikhede eindeloos. Die gesin hoop hy sal selfs eendag kan loop, al gebruik hy tans nog ’n rolstoel.

“Ons glo vas hy sal eendag kan loop,” sê Rob.

Noah het almal se verwagtings oortref. Claire sê “hy leer die mediese beroep dat jy nooit regtig weet nie”.

Bronne: mirror.co.uk, dailymail.co.uk