Netwerk24 berig hy het nog gelewe toe sy ma, Allen, skreeuend met hom in haar arms om hulp gesoek het. Een van die bure het die ma en seun in hul motor gelaai en hospitaal toe geneem.

"Toe ons by die Laudium-hospitaal inkom, het die personeel na ons aangehardloop vir die kind. Die ouers is so arm, hulle het nie eens fone nie, so ek het toe gery na waar die pa klere langs die pad verkoop," het die buurvrou vertel.

Die ontstoke pa wou net weet of sy kind nog lewe. Maar Tom is om 15:30 dood verklaar.

Nóg 'n seuntjie (3), 'n maatjie van Tom, is ook in die voorval beseer. Inwoners is woedend vir die eienaars van die huis waar die hek op die twee omgeval het. Die huis is glo vervalle en "al vir jare lank 'n lewensgevaarlike struktuur". Talle gesinne huur kamers agter die hoofhuis teen sowat R800 per maand.

Baie van die gesinne, insluitend die Kazambe-gesin, is buitelanders. Hulle het etlike jare gelede van Malawi af gekom omdat hulle nie daar kon oorleef nie.

Inwoners is erg ontstoke omdat die perseel in so 'n vervalle toestand is, al is die eienaars glo "biljoenêrs". Daar word gekla die eienaar-broers Yusuf en Mohammed Bhidia "boelie elke maand R800 uit die hawelose mense uit, maar het nie 'n paar rand om dié hek, wat al hoe lank stukkend is, reg te maak nie."

Die hek was glo net met 'n stukkie tou vasgemaak. Inwoners eis nou dat 'n moordklag teen die broers ondersoek moet word.

Bron: Netwerk24

Lees ook op Netwerk24: