Toe Lydia Tzigane in 2007 dié dag bedink het om buikdans as 'n kunsvorm, kultuurgeleentheid en wonderlike vermaakvorm wyer bekend te stel, was die gedagte "om uit te reik en ons geliefde dansvorm in 'n mooi en ander lig te stel deur 'n geleentheid te hou wat vir die hele gesin geskik sal wees en waarvan die hele wins aan liefdadigheid geskenk word."

En Suid-Afrika deel nou in die pret. Meesleurende Suid-Afrikaanse buikdansers vier die kunsvorm terwyl hulle geld insamel vir 'n goeie doel. The Feminine Divine verwelkom jou graag by Wêreldbuikdansdag op Saterdag 11 Mei 2013 van 10:00 tot 18:00.

Dis reeds die vyfde aflewering van die Kaapse viering van Wêreldbuikdansdag. Elke sent wins word aan die St. George-tehuis vir meisies geskenk. Verlede jaar is 'n rekordbedrag van R19 450 ingesamel wat, soos die tehuis versoek het, vir rekenaars aangewend is.

Vanjaar neem 30 ateljees deel. Daar is 'n modevertoning met 'n buikdans-tema, verskeie kos- en ander handelaars en 'n paar verrassings.

Maak reg om jou heupe te wikkel, jou lyf definisie te gee, pret te hê en 'n goeie daad te verrig. As jy aan Wêreldbuikdansdag 2013 wil deelneem as 'n danser, handelaar of besoeker, bel Tenille Lindeque by The Feminine Divine Oriental Dance Studio by 083 760 8499 of e-pos femininedivine@neomail.co.za.