Vier kinders by ’n sentrum vir probleemseuns het glo ’n toesighouer daar doodgemaak, het die polisie in KwaZulu-Natal Dinsdag gesê.

Die 40-jarige man was ’n toesighouer by die Excelsior Place of Safety in Pinetown, het kapt. Nqobile Gwala gesê.

“Hy is Maandag met veelvuldige steekwonde gevind. Die motief vir die moord is in hierdie stadium onbekend.”

Luidens berigte was die man besig om sy normale dagtaak te verrig toe die voorval plaasgevind het. Van die inrigting se personeel was glo bedrywig met ’n protesaksie voor die inrigting toe die man vermoor is.

Die vier seuns het ontsnap.

Die polisie in Pinetown ondersoek ’n moordsaak en is op die verdagtes se spoor. Die oorledene se naam is nog nie bekend nie.

Excelsior Place of Safety is ’n regeringsorganisasie vir seuns tussen die ouderdomme van 13 en 17 jaar. Dit bied korttermyn-verblyfgeriewe tesame met ’n intervensieprogram wat poog om verhoorafwagtende seuns te help.