’n Bruid verkeer in ‘n kritieke toestand terwyl vier van haar beste vriendinne in dieselfde ongeluk, wat in New York gebeur het, gesterf het. Haar vriendinne sou haar strooimeisies op haar troudag gewees het.

Die ongeluk het gebeur toe ‘n dronk bestuurder met die groep se limousine gebots het tydens hul hennedag-uitstappie.

Die groep, tussen 23-25 jaar oud, was op ‘n wyntoer en het ’n wynplaas enkele minute voor die ongeluk verlaat.

Volgens getuies was die limousine besig om ’n U-draai te maak toe die viertrekvoertuig daarteen bots en dit feitlik middeldeur skeur.

Polisiebeamptes wat op die toneel beskryf dit as een van die grusaamste ongelukke wat hulle nog ooit teëgekom het. Die bestuurder van die viertrekvoertuig is hospitaal toe geneem met snye aan sy gesig. Polisiebeamptes het aan CBS New York gesê die viertrekvoertuig-bestuurder is gearresteer op ’n klag van dronkbestuur. Hy het aanvanklik van die toneel af gevlug, maar hy is kort daarna gevang. Speurders ondersoek ook die moontlikheid dat die limousine ’n onwettige U-draai gemaak het tydens die ongeluk.