Vier mense, onder wie die aanvaller, is dood in ’n skietery op Fort Hood, dieselfde Amerikaanse weermagbasis waar ’n majoor in 2009 op ’n dodelike skiettog gegaan het. Die skieter is luidens berigte ’n soldaat wat vir sielkundige probleme behandel is.

“Daar is geen aanduiding dat die voorval met terrorisme verband hou nie,” het lt.genl. Mark Milley aan verslaggewers gesê, en bygevoeg 16 mense is gewond in die voorval op die basis in Texas. Die skieter het sy lewe geneem, het Mark gesê.

’n Soldaat het aan CNN gesê hy het skote gehoor “en aangeneem dis loskruit-rondes. . . . Ons het ’n sarsie gehoor, toe nog ’n sarsie en ’n mens kon duidelik hoor dit was duidelik nie loskruit-ammunisie nie. Dit was skerppunt-ammunisie.”

Amerika se pres. Barack Obama, wat in Chicago was tydens die voorval, het gesê ondersoekers sal vasstel wat gebeur het.

“Natuurlik het dit die pyn in herinnering geroep van wat vyf jaar gelede op Fort Hood gebeur het,” het Obama gesê. “Baie van die mense daar was al meermale in Irak en Afganistan; hulle het dapper gedien; hulle het met onderskeiding gedien. Hulle moes veilig gevoel het op hul tuisbasis.”

CBS News het naamlose bronne aangehaal waarvolgens die skieter ’n 34-jarige soldaat was. Die skietery was glo na aanleiding van ’n meningsverskil tussen soldate, berig die netwerk.

Op 5 November 2009 het maj. Nidal Hasan losgebrand in ’n mediese sentrum op die uitgestrekte basis vanwaar soldate ontplooi word na oorlogsgebiede. Twaalf van die 13 oorledenes en 30 gewondes was soldate. ’n Polisiebeampte, wat op die aanval gereageer het, het Nidal geskiet. Hy het oorleef, maar is deels verlam.

’n Militêre jurie het die Amerikaans gebore Moslem van Palestynse afkoms verlede Augustus ter dood veroordeel.

Die Pentagon het gesê die minister van verdediging, Chuck Hagel, sal die media op die hoogte hou namate die gebeure by Fort Hood ontvou, het ’n woordvoerder gesê.

Fort Hood is die grootste Amerikaanse militêre basis met ’n heeltydse bevolking van 70 000, onder wie 42 000 militêre personeel.

Skietvoorvalle by Amerikaanse militêre instellings is niks nuuts nie.

Verlede September het die burgerlike kontrakteur Aaron Alexis 12 mense in die Washington-vlootwerf met ’n afgesaagde haelgeweer doodgeskiet.

Pas verlede maand het ’n 35-jarige man ’n seeman doodgeskiet aan boord van die geleidemissiel-vernietiger USS Mahan in die Norfolk-vlootbasis, die grootste in die VSA. - Sapa