Vandag is Wêreldtoerismedag. Om dit te vier kyk ons vandag na vier plekke wat rekords breek in Suid-Afrika.

tourism main

Die koudste plek: Distrik Molteno, Oos-Kaap

Die koudste temperatuur wat al gemeet is deur ’n weerstasie wat deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens beheer word, was op die plaas Buffelsfontein in die Stormberg-gebied van die Oos-Kaap. Op 28 Junie 1996 was dit ’n ongelooflike -18,6 °C.

Buffelsfontein is geleë tussen Molteno en Dordrecht. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 11,3 °C  en die gemiddelde minimum temperatuur van die gebied is 2,8 °C.

Die oudste poskantoor: Die poskantoor-boom op Mosselbaai, Wes-Kaap

Die storie loop dat die Portugese seevaarder Pedro d’Ataide êrens in die jaar 1500 ’n briefie in ’n skoen gelos het wat hy aan ’n melkhoutboom gehang het. Die brief is in 1501 deur die bevelvoerder van die Oos-Indiese vloot, João De Nova, gevind terwyl hy op pad Indië toe was. Dis nou wat ons noem stadige pos! Dié plek is nou een van Mosselbaai se gunsteling-toeriste-aantreklikhede.

Die winderigste plek: Kaappunt, Wes-Kaap

Die Baai is dalk bekend as die stad met die meeste wind, maar dit is nie die plek waar dit die winderigste raak nie. Kaappunt is amptelik die winderigste plek. Die jaarlikse gemiddelde windsnelheid is 14,1 m/s en 42,1 persent van die winde se snelheid is meer as 8 m/s. Maar die sterkste wind wat al gemeet is, was op Beaufort West in die Karoo op 16 Mei 1984 en dit was 186 km/h.

Die oudste kroeg: The Pig and Whistle, Bathurst, Oos-Kaap

Die Pig and Whistle het sy dranklisensie in 1832 gekry, wat dit die kroeg maak met die langs aaneenlopende lisensie. Dit bied al meer as 180 jaar ’n lekker kuierplek aan inwoners en toeriste en dié kroeg, wat deur ’n familie bestuur word, het ’n warm, verwelkomende atmosfeer wat ryk is aan geskiedenis en ’n ouwêreldse bekoring.

Dis dus tyd vir ’n bietjie verkenning in ons eie land of hoe dink julle?

-Faiza Mallick

Bronne: gomag.co.za, pigandwhistle.co.za, weathersa.co.za, visitmosselbay.co.za

Foto: Flickr – Frontierofficial