Met DA-leier Helen Zille se bekendmaking dat sy nie vir herverkiesing beskikbaar is nie, kyk Carien du Plessis van City Press na moontlike kandidate wat beheer van die party kan oorneem.

Mmusi Maimane

Die DA se parlementêre leier is bo-aan die lys van mense wat hulle dalk by die DA se konferensie in Mei as leier verkiesbaar sal stel.

Uit hoofde van sy pos is die 34-jarige Maimane een van die mees senior leiers in die party. Hy is daarvoor bekend dat hy ambisieus is.

Die DA het Maimane voor die 2012-verkiesing gewerf toe hy as die party se kandidaat vir DA-burgemeester gestaan het. Sedertien het hy skouspelagtig opgang gemaak.

Maimane het verlede jaar as die party se premierskandidaat vir Gauteng gestaan, maar is parlement toe nadat die DA nie beheer oor die provinsie kon verkry nie.

Sy praatstyl wat sterk aan dié van pres. Barack Obamas van Amerika herinner, is gewild in die party. Hy is by die party se laaste kongres met ‘n oorweldigende meerderheid stemme tot een van die federale voorsitters verkies.

Maimane het kort voor die DA se noodpersverklaring gister op Twitter Helen Zille as sy heldin beskryf.

Lindiwe Mazibuko

Die DA se gewese parlementêre leier studeer tans aan Harvard nadat sy verlede jaar besluit het om ’n blaaskans van die politiek te neem ná ’n toenemend gespanne verhouding met Zille.

Daar is nog altyd gemeen Zille het Mazibuko (wat op 9 April haar 35ste verjaardag gevier het) gementor en gedruk om haar moontlik opvolger te wees.

Nes Maimane s’n in 2014 is Mazibuko se gesig prominent in die party se verkiesingsveldtog van 2011 gebruik. Mazibuko het al in die verlede gesê haar bedanking uit die politiek is tydelik en dit is bekend dat van haar vriende in die DA haar probeer oortuig om terug te kom.

Zille se aankondiging sal Mazibuko baie min tyd laat om na Suid-Afrika terug te keer en ’n veldtog te voer – as sy trouens haar studies voor dan afgehandel het.

Athol Trollip

Trollip is tans die DA-leier in die Oos-Kaap, burgemeesterskandidaat vir Nelson Mandela-baai in 2016 en kandidaat vir die party se federale voorsitter volgende maand. Sy aanhangers beskryf hom as ambisieus en terwyl sy kritici hom as gulsig bestempel.

Mazibuko het hom halfpad deur sy termyn as parlementêre leier oorwin – deels omdat sy leierskapstyl ongewild geword het en deels omdat DA-parlementslede gevoel het die party benodig iemand meer soos Mazibuko: jonk, swart, slim en vroulik.

Trollip het ’n lang geskiedenis in die party, kan soos Zille Xhosa praat en het die steun van verskeie in die party wat deur Zille se leierskap gekrenk voel.

Patricia de Lille

Kaapstad se burgemeester is ’n bekende politieke vuurvreter met ’n indrukwekkende “struggle”-getuigskrif.

Haar politieke reis was via die Pan Africanist Congress, deur die stigting van die Onafhanklike Demokrate tot ’n samesmeltiing met die DA in 2010.

Sy is tans ’n kandidaat vir die DA se Wes-Kaapse leier. Dié verkiesingskongres vind Saterdag, 18 April plaas. Dit kan beteken dat sy nie haar nie verkiesbaar sal stel vir die party se nasionale leierskap volgende maand nie.

Die vraag is ook of die 64-jarige sal meen sy het die energie om weer ’n nuwe uitdaging aan te pak.

Bron: News Wire

In City Press se oorspronklike artikel is die DA se parlementêre hoofsweep, John Steenhuisen, ook as ’n kandidaat genoem. Hy het egter intussen aangedui dat hy nie vir die posisie gaan staan nie.