iOS 7

’n Splinternuwe bedryfstelsel, wat glo vernuwing bring vir iPhones, iPads en iPods, tree vandag in werking. Geharde Apple-aanhangers probeer seker al die hele dag om hul toestelle se sagteware op die hoogte te bring.

Voor jy dit doen, moet jy na ’n paar dinge oplet.

1. Maak seker jou toestel is versoenbaar 

Kyk of die sagteware op jou toestel sal werk. Jy moet ’n iPhone 4, 4s, 5, iPod touch 5e generasie, iPad 2, iPad met retina-skerm of iPad Mini hê. Met enigiets ouer is dit tyd vir ’n opgradering.

 2. Skrap onnodige apps

Elke eienaar van ’n Apple-toestel het apps wat na ’n goeie idee gelyk het, maar nooit oopgemaak is nie. Het jy dalk ook ’n oefenprogram-app? Om dit te skrap, tik en hou die app tot dit begin skud en tik dan op die X-knoppie op die hoek links bo.

3. Werk jou apps by

Maak seker die oorblywende apps is opgedateer, want dis die laaste keer wat jy dit self sal doen. Voortaan sal die iOS 7 outomaties opdateer.

4. Rugsteun jou toestel

Dis moontlik die belangrikste item op jou lysie. As iets verkeerd gaan, kan jy alles verloor wat jy op jou toestel gebêre het. Jy kan jou toestel dadelik met iTunes of iCloud rugsteun. Om iTunes te gebruik, verbind jou toestel, klik op die toestelknoppie (bo regs op iTunes) en kies jou rugsteunstellings. Vir iCloud, gaan na stellings, iCloud, bêre en rugsteun, en skakel iCloud Backup aan.

-          Kirstin Buick

Aangepas uit cnet.com