Ag nee! Sê dit is nie so nie! ’n Video het onlangs uitgelek wat wys hoe ’n hond op die stel van Dennis Quaid se nuwe rolprent, A Dog’s Purpose, in water gegooi word toe hy hom tydens ’n toneel bedink en weier om die water aan te durf.

In die video, wat in November 2015 buite Winnipeg in Kanada geskiet is, kan jy sien hoe die hond, een van minstens vyf in die produksie, in die water geboender word terwyl hy vir ’n vale aan die kant van die swembad probeer klou. Maar al rem hy ook hoe, word hy steeds ingegooi.

In die minuut lange video kan jy hoor hoe ’n man lag terwyl die instrukteur herhaaldelik probeer om die bang hond in die water te kry. “Gooi hom net in,” sê die man op ’n kol.

Kyk hier na die skokkende video wat op die skinderwebtuiste TMZ gedeel is:

Die Amerikaanse diereregteorganisasie Peta en die akteur Josh Gad, een van die sterre van die fliek, het hul stem dik gemaak sedert die video uitgelek het. Peta wil hê mense moet die rolprent boikot.

Dit begin op 27 Januarie in Amerika in rolprentteaters draai, maar die premiere is intussen uitgestel weens die omstredenheid rondom die video.

Amblin Entertainment, wat die fliek vervaardig, en Universal Pictures, wat dit versprei, het na die beeldmateriaal gekyk en in ’n gesamentlike verklaring gesê groot sorg is aan die dag gelê met die honde wat in die fliek gebruik is.

Hulle het Hercules, die hond in die video, se toertjie geoefen, maar toe hy sy tonele voor die kamera moes verfilm, het hy kleinkoppie getrek. “Hercules is gelukkig en gesond,” sê hulle.

Die American Humane Association, wat die behandeling van diere op fliekstelle monitor, was ook nie beïndruk met wat hulle in die video gesien het nie.

“Toe die hond tekens toon dat hy nie in die water wil spring nie, moes hulle die toneel gestop het. Ons gaan onmiddellik die veiligheidsverteenwoordiger wat op stel was op administratiewe verlof laat plaas en ’n onafhanklike derde party inbring om die saak te ondersoek,” het die vereniging laat hoor.

Josh, wat die hond se stemwerk doen, sê op sy beurt dis hartseer om te sien dat enige dier teen sy sin in so ’n situasie gesit word.

Since apparently some of you did not see the statement I issued last night, here it is again.

A photo posted by Josh Gad (@joshgad) on

Lasse Hallström, die regisseur, het ook op Twitter gerugte die nek ingeslaan dat hy op stel was toe die hond gedwing is om in die water te spring.

“Vir almal wat die ontstellende video gesien het van hoe A Dog’s Purpose gemaak is: Ek het nie gesien wat gebeur het voor die kameras gerol het nie!” het hy getwiet. Hulle wou ’n liefdevolle en veilige omgewing vir al die diere op stel skep, het hy verder getwiet. “Ek is ’n lewenslange diereliefhebber en A Dog’s Purpose is my derde fliek oor honde.”

Kyk hier na ’n lokprent vir die fliek:

BRONNE: TMZ.COM, PEOPLE.COM, DAILYMAIL.CO.UK