Hy en sy meisie, Daniellá Janse van Rensburg (21), het tereggestaan op ’n aanklag van dwelmbesit nadat dagga in September verlede jaar in Table View in haar motor gevind is.

Die saak teen Henri is op meriete laat vaar, terwyl Daniellá s’n laat vaar is op voorwaarde dat sy verpligte sessies by ’n sielkundige moet bywoon.

Dit volg na aanleiding van ’n verslag wat deur Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en Rehabilitasie van Oortreders saamgestel en by die hof ingedien is.

Henri, netjies geklee in ’n grys pak, was vergesel deur die prokureur wat hom ook in die sogenaamde bylmoordsaak verteenwoordig, Lorinda van Niekerk. Sy advokaat, Pieter Botha, was ook by.

Hy en Daniellá het langs mekaar agter in die hof gewag vir die landdros om hul saak aan te hoor.

Daniellá, wat ’n ander regsverteenwoordiger het, het ’n swart rompie en stewels gedra.

Henri moet op 24 April in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn in verband met die moord op sy ouers, Martin en Teresa, en sy broer, Rudi, sowel as die poging tot moord op sy suster, Marli, vroeg in 2015 op Stellenbosch. Hy staan ook tereg op een aanklag van regsverydeling.