Natuurliefhebbers is gewalg deur ’n video wat die BBC onlangs vertoon het wat wys hoe geblikte leeus in Suid-Afrika gejag word. Volgens die inleiding is dié video op ’n jagplaas in die provinsie Noordwes verfilm.

Die video begin met ’n groep Amerikaanse jagters wat met ’n bakkie op ’n grondpad deur die veld ry. Dan verskyn ’n blykbaar halfmak leeumannetjie sowat 30 m daarvandaan vanuit die bosse. Hy kyk vir ’n paar oomblikke na die jagters voor hy doodluiters aanstap.

Die eerste skoot klap en die mannetjie tol in ’n stofwolk vooroor, maar hy is net gekwes. Hy kom orent en gee ’n paar benoude spronge voor hy weghardloop om dan ’n ent verder in mekaar te stort.

Maar dis net een van die vele skoktonele in die video. Op ander grepe kan gesien word hoe ’n leeu wat in ’n boom skuil, geskiet word en na benede tuimel. Dan is daar ook ’n leeu wat in ’n vlakvarkgat probeer wegkruip, maar binne-in die gat geskiet word. Ná elke dier wat sneuwel, wens die jagters mekaar met groot fanfare en in erg gekruide taal geluk. Die fotograaf Derek Gobbett het dié video as aandenking vir die jagters verfilm, maar hy het dit toe aan die BBC gegee wat dit in die sosiale media geplaas het. WEES GEWAARSKU! HIERDIE VIDEO KAN SENSITIEWE KYKERS ONTSTEL:

Die kommentaar onder die video wys hoe dit kykers walg: “Siek en hulle skiet hierdie pragtige diere net vir die pret. Dit is ’n skande,” skryf een.

“Wat de f** is die punt van jag uit ’n bakkie? Dis waansinnig en lafhartig,” laat hoor nog een. Ali Khan skryf: “Ek hoop daar sal ’n dag kom dat ons hierdie f***** jagters kaal sal los tussen ’n trop leeus of kinders wat met kragtige BB-gewere op hulle skiet.”