Kyk net na wat gebeur het toe Justin en sy fotograaf-bruid Jillian Sipkins hul eerste danspassies as pasgetroudes gegee het.

Waar die senuwees gewoonlik by talle paartjies tydens hierdie groot oomblik knaag, het Justin en Jillian besluit om bietjie pret te hê. Met ’n "kul jou hier, kul jou daar op ons eie manier…”

Op die maat van die klassieke R&B-treffer I Put a Spell On You, begin die paartjie aanvanklik met 'n heel gewone roetine, maar spoedig neem die dans 'n wending toe Jillian haar man letterlik ‘betower’.

Skielik sweef Justin bokant die grond, met niks wat hom skynbaar ondersteun nie. Die gaste geniet hul gate uit, en een van die ouerige gaste spring self die lug in van opgewondenheid.

Ná sy toertjie staan Justin bloot op van waar hy 'n entjie bokant die grond gesweef het en maak asof dit die mees normale ding in die wêreld was wat pas gebeur het.

Dié video is al meer as 5 miljoen keer op YouTube na gekyk.

Gaan loer gerus daarna hier:

Bronne: YouTube; RT News