“Black and blue. God vs. man. Day vs. night.”

So praat Jesse Eisenberg as Lex Luthor in die nuwe, treffende lokprent vir Batman v. Superman: Dawn of Justice wat oor die naweek uitgereik is.

Dit wil voorkom asof dinge glad nie pluis is in die lewens van ons gunsteling superhelde nie.

Superman, weer gespeel deur die Brit Henry Cavill, voel ontnugter deur sy rol as beskermer van die mensdom.

Batman, dié keer gespeel deur Ben Affleck wat by Christian Bale oorneem, wroeg met skuldgevoel oor sy familie se dood.

Die lokprent wys hoe dié twee begin koppe stamp wat uiteindelik uitloop op ’n reusagtige geveg.

Aanhangers van die strokiesprentreeks van DC Comics, die stal waaruit beide Superman en Batman kom, kan ook uitsien na die terugkeer van Superman se aartsvyand Lex Luthor, sy geliefde Lois Lane (Amy Adams) sowel as Batman se getroue handlanger Alfred Pennyworth (Jeremy Irons).

Dit gee ons ook die eerste indrukke van Wonder Woman (Gal Gadot), wat in Batman v. Superman haar eerste verskyning op die silwerdoek maak.

Die lokprent is reeds meer as 17 miljoen keer na gekyk, skaars 48 uur nadat dit by vanjaar se Comic-Con-fees in San Diego uitgereik is.

Batman v. Superman: Dawn of Justice word aanstaande jaar Maart uitgereik.