Jora en Black floreer in hul nuwe Suid-Afrikaanse tuiste.

[caption id="attachment_115600" align="alignnone" width="601"]Jora en Black het in haglike omstandighede in 'n hok in Bulgarye geleef voor hulle na Suid-Afrika gekom het. FOTO: facebook.com/bornfreefoundation Jora en Black het in haglike omstandighede in 'n hok in Bulgarye geleef voor hulle na Suid-Afrika gekom het. FOTO: facebook.com/bornfreefoundation[/caption]

Dié agtjarige leeubroers is sowat drie maande gelede met welslae in Bulgarye gered en was oorspronklik deel van ’n sirkus wat deur Oos-Europa en Turkye gereis het.

Nadat die Bulgaarse regering die gebruik van wilde soogdiere in sirkusse verbied het, is die leeus in ’n hok gelaat tot die eienaars ingestem het om hulle met Born Free ’n nuwe tuiste te laat vind.

Lees ook: Snuffelhond red bejaardes van geldelike nagmerrie

Danksy openbare steun kon Born Free vir Jora en Black bykans 17 000 km via Engeland vervoer na ’n nuwe lewe in die bekroonde Shamwari-wildreservaat naby Port Elizabeth in die Oos-Kaap.

Jorda en Black sal nou lewenslank versorg word in die groot, natuurlike en veilige omgewing van die Born Free Jean Byrd-stigting en reddingsentrum in Shamwari.

Jora en Black het vinnig aan hul nuwe tuiste gewoond geraak, sê Karen Pettman, projekbestuurder by die Born Free-stigting.

Lees ook:  Heldhaftige bulterriër red SA vrou van kobra

“Ons is verheug dat hulle aangepas het by hul ruim tuiste by Born Free se Big Cat-reddingsentrum in die Shamwari-wildreservaat. Jora en Black geniet dit duidelik om saam te wees en is baie speels met mekaar.

“Hulle raak ook baie gewild onder die sentrum se besoekers vir wie hulle dikwels kom groet en hulle jaag graag mekaar langs die rand van hul kamp.”

In ’n aandoenlike video wat verlede week uitgereik is, word vertel hoe Born Free die leeus gered het en wys die emosionele oomblik toe die broers uit hul reiskratte vrygelaat en vir die eerste keer op Afrika-bodem stap.

Die video kom met Born Free wat 2016 as die jaar van die leeu bestempel het om die lot van leeus wêreldwyd te belig en die 50ste herdenking van die Oscar-bekroonde fliek Born Free te herdenk.

Bron: www.bornfree.org.uk