In die video kan gesien word hoe die motor die waentjie tref en ’n driejarige seun soos ’n lappop 9 m deur die lug slinger.

’n Tweejarige tweeling, ’n seuntjie en sy sussie, vlieg ook oor die pad.

Die voorval het in die Russiese stad Lesnoj plaasgevind.

Die 20-jarige bestuurder van die Polo-motor het glo teen 74 km/h in ’n 40 km/h-sone gejaag.

Oomblikke nadat hy die gesin getref het, lyk die jong bestuurder eerder meer besorg oor die skade aan sy kar as oor die gesin se welstand.

Gelukkig is nie een van die kinders dood nie. Die driejarige het die ergste seergekry en het sy gesig en kop beseer. Die tweelingseuntjie het kopwonde en ’n gebreekte heup opgedoen en sy suster harsingskudding. Hul pa se voet is beseer.

Die hele gesin is in die hospitaal opgeneem.

Die ongeluk word deur die polisie ondersoek.

Hoewel die bestuurder te vinnig gery het, word die pa se besluit om die pad oor te steek terwyl hy ’n motor kan sien aankom, ook bevraagteken.

Bronne: Daily Mail; YouTube