Volgens News24 het die spanningsbelaaide voorval Dinsdagmiddag in Durban plaasgevind.

Die man het ’n reusemes uitgepluk toe polisielede hom konfronteer. ’n Verbygaande motoris het die hele gedoente op video vasgevang.

Die nuuswebtuiste berig dit is nog nie duidelik wat tot die konfrontasie tussen die polisie en die man gelei het nie. Padwoede het vermoedelik tot die voorval gelei.

In die video kan voertuie van die Durbanse metropolisie, die Suid-Afrikaase Polisiediens (SAPD), ’n blou Isuzu-bakkie en ’n rooi Hyundai i20 gesien word.

Lees ook: Gewilde kroeg en kinderkerk loop deur onder boewe – kyk skokkende video!

Die ongeïdentifiseerde man, geklee in ’n baadjie en ’n blou kep, hardloop met sy mes om die Hyundai terwyl beamptes spook om uit sy pad te bly.

Daarna kom die SAPD op die toneel aan, kompleet met koeëlvaste baadjies aan, en probeer die man onder bedwang bring.

Eindelik rig die polisie hul vuurwapens op die man, wat dan met iemand in die Isuzu praat en na die Hyundai beweeg.

Ná ’n geskarrel gryp die polisie hom, dwing die mes uit sy hand uit en druk hom op die grond vas.

Sbonelo Mchunu, metropolisiewoordvoerder, was volgens News24 nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.

Kyk hier na die video van die voorval: