Waarskuwing: Grafiese video

’n Ontstellende video is onlangs op die internet gedeel waarin vermoedelik Chinese winkeliers ’n lewendige en uiters-giftige slang (spesie onbekend) in ’n glasbottel vol alkohol sit.

Die slang is sigbaar paniekerig en probeer tevergeefs ontsnap voor dit stadig in die alkoholgevulde glasbottel verdrink.

Die man en vrou in die video lyk egter min gepla deur die slang se desperate pogings en druk dit net al dieper in die bottel in.

Die tradisie van slangwyn in China is minstens 2 700 jaar oud. Navolgers van tradisionele Chinese medisyne sweer hoog en laag slangwyn is ’n effektiewe teenmiddel vir kwale soos haarverlies en natuurlik impotensie by mans.

Die manier van slangwyn maak soos gesien in hierdie video staan as “steeping” bekend. Die giftige slang gaan nou vir etlike maande in die alkohol gelos word.

Kleiner slangetjies en kruie word ook soms bygevoeg.

Maar wat van die slanggif self? Etanol in die alkohol los dit op en haal só die giftige pik uit die drankie.

Sodra dit lank genoeg gestaan het, word die tradisionele drankie in klein sopie-glasies geniet tot sover as Viëtnam en ander Suid-Asiatiese lande.

Bronne: Daily Mail; Mirror.co.uk