Die aantreklike sepiester Ramey Short Foto's: lora.photography

Die aantreklike sepiester Ramey Short, oftewel dr. Quinton Meyer van Binnelanders, het gister sy aanhangers verras toe hy sy eerste musiekvideo op Facebook plaas. 

Die video, waarin Ramey (35) die Calum Scott-liedjie Dancing on My Own sing, is teen vanoggend al meer as 9 000 keer gekyk.

“Ja, ek sal dit love om my eie album uit te reik,” sê Ramey eksklusief aan huisgenoot.com. 

“Ek wil baie graag ’n sangloopbaan hê. Sing was nog altyd een van my ’n groot passies. Ek dink ek is ’n late bloomer wanneer dit by sang kom.”

Ramey Short speel dr. Quinton Meyer in die KykNet reeks Binnelanders.

Hy het al ’n paar wenke gekry by sy een neef, die Drie Pikkewyne-sanger, Jakkie Louw. “Ek het al saam met Jakkie ’n liedjie of twee gesing wanneer hy op toer is, maar nog nie professioneel gesing nie. Ek het al sanglesse geneem. 

“’n Mens vaar nie net in een veld goed nie. Sing is net nog ’n vorm van vermaak,” sê Ramey.

Hy het verlede week ’n selfie van hom op die Binnelanders-stel gedeel en daarby geskryf: “Ek is terug.” Die akteur sal weer middel Julie op die kassie te sien wees as dr. Meyer. 

Ramey se musiekvideo was skaars op sy Facebook-blad toe aanhangers wou weet waar hulle ’n CD kan koop. 

“Ek laat weet in ’n latere stadium! Hou my Facebook-blad dop. Dankie vir die ondersteuning,” het hy geantwoord.