Die onvoorspelbaarheid van regstreekse televisieuitsendings het al etlike skreeusnaakse oomblikke opgelewer.

Hierdie geval is ietwat meer spesiaal. Tydens ’n insetsel op die gewilde Britse nuuskanaal Sky News het twee kulkunstenaars besluit dit is die ideale tyd om ’n toertjie op die agtergrond uit te voer.

Dié twee, wat hul eie kulkunsonderneming, Young & Strange, bedryf, het die kans aangegryp om regstreeks op televisie ’n heel skaflike “shrinking man”-toertjie uit te voer.

Die snaaksste van alles is dat die aanbieder, Ashish Joshi, geen benul het wat agter hom aan’t gebeur is nie.

Die kameraman het duidelik geweet, want dié probeer vergeefs die kulkunstenaars buite die skoot kry deur ál nader op Ashish se gesig te fokus.

Maar hy kon hulle nie sommerso wegtoor nie.

Bronne: YouTube; HuffingtonPost