Dit gebeur wel soms dat van hierdie manjifieke diere verstrengel raak en dan moet die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) ingryp om hulle te bevry.

Vandeesweek was daar twee afsonderlike gevalle waar dié groot soogdiere hulself in ’n tameletjie bevind het.

Die NSRI op Hermanus moes Sondagmiddag inderhaas na Kleinmond gaan nadat ’n walvis daar in boeie en toue verstrengel geraak het. 

Die tou was verskeie kere om die walvis se stert gedraai.
Die NSRi kon daarin slaag om die walvis te bevry

Die reddingsvaartuie South Star en Jaytee III het die gedierte tussen Palmiet en Kleinmond opgespoor.

Die span kon daarin slaag om die toue af te sny.

“Die walvis het weggeswem en dit het nie gelyk of hy beseer is nie,” sê Deon Langenhoven, NSRI Hermanus se stasiebevelvoerder, in ’n verklaring.

Dinsdag moes die seereddingspan weer ingryp nadat ’n walvis by Clovelly tussen Kalkbaai en Vishoek in ’n tou verstrengel geraak het.

Die tou was etlike kere om sy stert gedraai en Simonstad se NSRI moes die walvis met spesiale toerusting los sny.