’n Jong Star Wars-aanhanger van Amerika het onlangs ’n 3D-gedrukte prostetiese arm gekry wat ontwerp is om soos die wapenrusting van die karakters in sy gunstelingfliek te lyk.

Liam Porter (7) is sonder ’n deel van sy linkerarm gebore. Hy het ’n lekker verrassing gekry toe ’n groep mense, aangetrek soos Star Wars-karakters, hom by sy plaaslike rolprentteater ontmoet.

Hulle het hom ’n nuwe prostetiese arm gegee wat lyk soos die arm van ’n Star Wars Stormtrooper. John Peterson het die arm gemaak as deel van sy betrokkenheid by E-Nable, ’n liefdadigheidsorganisasie wat mense help om 3D-gedrukte hande te kry.

E-Nable stel mense in staat om gratis ontwerpe vir prostetiese hande af te laai, waarna ’n 3D-drukker gebruik kan word om die hande te maak.

Die groep bring ook diegene wat prostese nodig het, in aanraking met mense wat die 3D-drukkers het wat nodig is om die ontwerpe uit te druk.

Kyk die video hier:

-Petro-Anne Vlok

BRONNE: huffingtonpost.com, enablingthefuture.org, youtube.com