Versigtig sit jy een voetjie voor die ander soos jy stadigaan bo-oor die afgrond loop.

Al wat tussen jou en die ewige diepte is, is 'n skamele glaspaneel net 24 millimeter dik. Sou jy val, tuimel jy 300 meter na onder. Hierdie, die wêreld se hoogste (en langste) glasbrug is pas voltooi. Dit is net buite Zhangjaijie in die sentraal Chinese provinsie Hunan.
Die brug is gebou teen 'n koste van sowat R58 miljoen (26 miljoen Yuan) en het net meer as 'n jaar geneem om te voltooi. Jy stap sowat 375 meter van een plato na die ander met net glas tussen jou en die vallei doer onder.

Hoewel die brug klaar is, maak dit eers in Mei volgende jaar oop vir die publiek. Daar moet nou eers planne beraam word oor hoe om die brug so veilig as moontlik te hou terwyl baie mense daaroor loop.

Want sien, hoe meer mense daaroor loop, hoe meer gaan die brug beweeg wat kan lei tot strukturele skade.

Bronne: Daily Mail; Vulture