Dié vermeende dief is na bewering al sowat twee maande lank doenig in dié woonbuurt in die ooste van Pretoria en het al by minstens 10 huise goed gesteel. Sy groot trekpleisters is iPads, selfone en fietse.

Die verdagte woon vermoedelik in die omgewing, sê Anneke Bodenstein, voorsitter van die GarsB3-gemeenskapspolisiëringsforum, want “hy verdwyn  net te maklik. Hy is ’n sagte dief; hy beweeg stil.”

Anneke sê: “Hy breek bitter min in. Ek dink daar is nog net by twee huise ingebreek. Die res van die tyd loop hy rond en soek iets. Hy is ’n opportunis. Jou venster sal oop wees en dan steel hy iets daardeur.

“Ek het video’s en video’s van hom wat met ’n fiets wegloop.”

’n Inwoner van Garsfontein het materiaal van kringtelevisiekameras aan die gemeenskapskoerant Rekord verskaf. Dit wys hoe die man op haar stoep rondloop.

Dié inwoner, Wendy Smuts van Zitastraat, het aan Rekord gesê haar kringtelevisiekameras het die man die afgelope drie weke minstens vyf keer in haar erf betrap. Dit is sy wat in haar onderhoud met Rekord na die man as die Tuindwerg verwys het.

In die video kan jy sien hoe hy saggies op die stoep rondstap. Hy is glad nie haastig nie. Sy broek is by sy sokkies ingesteek, hy het ’n skroewedraaier in die een hand en in die ander ’n flits. Hy is ook al ’n koplig gesien dra.

Die verdagte druk sy broek by sy sokkies in sodat dit nie aan iets haak wanneer hy laat spaander nie. Hy kies koers deur verskillende erwe en spring van muur tot muur. Die een oomblik kan jy hom nog op iemand se kringtelevisiebeeldmateriaal sien; die volgende oomblik is hy stil.

Anneke sê die verdagte is ’n lang, maer man met hoë wangbene.

Gemeenskapslede het ’n beloning van R2 000 beloof aan enigiemand met inligting wat tot sy inhegtenisneming sal lei.

Mense wat die man opmerk, kan Anneke bel by 083-985-1717.