’n Video van twee skoolseuns wat mekaar met die vuiste timmer, het die sosiale media aan die gons.

Die voorval het laas Woensdag in Klerksdorp plaasgevind. Die twee leerders van die Hoërskool Schoonspruit het mekaar in ’n straat op die dorp toegetakel.

In die video kan gesien word hoe toeskouers toekyk terwyl die groter seun (16) die skraler seun herhaaldelik in die gesig slaan en hom later optel en op die grond neergooi, waar hy aanhou om die ander een in die gesig te slaan.

Dries de Beer, hoof van die Hoërskool Schoonspruit, het gesê die voorval word ondersoek en albei leerders gaan voor ’n dissiplinêre komitee verskyn.

“Die voorval het buite skoolure gebeur en nie op die skoolterrein nie. Dit was buite ons beheer.

“Dit is tragies dat ons skool se naam so deur die modder gesleep moet word. Ons probeer ’n kultuur van liefde en verdraagsaamheid aankweek.”

De Beer sê nie een van die kinders is ernstig beseer nie. Die skraler seun se ma het hom hospitaal geneem, maar hy is dieselfde dag ontslaan.

Hy het geen merke op sy gesig gehad nie, sê De Beer.