“Ons nuwe CD se naam is Padlangs, want ons wil hê luisteraars moet dit in hul motors speel as hulle die langpad aandurf.

“Of hulle kan dit op enige luilekker Saterdagmiddag geniet,” vertel Leonie Avenant, die Kaapse Affodille se pianis, baskitaar- en konsertinaspeler.

Die CD is op die onlangse Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn bekendgestel.

Die meeste van die nommers hierop is bekendes soos Nico van Rensburg se Donkerhoek, Ou Waenhuis van Japie Laubscher en die opgewekte mondfluitjie-weergawe van Francois Hayes se Karolis.

Die gewilde Kaapse Affodille het al die topvyf in kykNET se boeremusiekkompetisie, Varstrap, gehaal en is ook in die Nasionale Boeremusiekgilde-kompetisie as die beste vroue-boereorkes bekroon.

“Ons is ernstig oor ons musiek en oefen elke Saterdag,” sê Leonie, wat ook die groep se bemarking doen. Hulle kan almal meer as een musiekinstrument bespeel en dis indrukwekkend om die vroue tydens optredes instrumente onder mekaar te sien uitruil.

Leonie het al in die High Wycombe-teater in Wes-Londen as Soul Girl in Jesus Christ Superstar opgetree. Sy is die eienaar van ’n sekuriteitsfirma.

Die ander orkeslede is:

Mariaan Wiese (orkesleier) speel konsertina, baskitaar, fluit, banjo, kitaar, mondfluitjie en klavier. Sy werk as gehaltekontroleerder in die vrugtebedryf.

Rena Smuts speel kitaar, baskitaar en tromme. Sy is ’n bakster.

Marietjie Willemse speel akoestiese kitaar, banjo en konsertina. Sy is verantwoordelik vir logistiek by ’n wynmaatskappy.

Luzette Stemmet speel tromme, klavier of klawerbord, baskitaar, elektriese en akoestiese kitaar.

Feitlik almal kan minstens een liedjie op die konsertina speel. Omdat die drukke so ingewikkeld is en ’n mens op geheue moet speel, is dit baie moeilik om te leer. Maar hulle laat dit alte maklik lyk . . .

Terugflits: Só het Huisgenoot die Kaapse Affodille in 2012 van naderby leer ken.