Op die oog af was daar oënskynlik geen rede vir die vreemdste vullisdrom-aksie wat op kringtelevisie vasgevang is nie.

Inteendeel, dit lyk soos ’n kombinasie tussen ’n zombie-aanval en wetenskapsfiksie toe drie vullisdromme ’n goed-gesinchroniseerde aanval op ander dromme van stapel gestuur het.

Dit was dalk die einde van hul pad van rommelstrooi, en gelukkig was daar nie skade aangerig nie. Die drie ‘rondloper’-dromme het ’n geparkeerde paneelwa rakelings gemis.

Die video is onlangs deur Gary Wilson op YouTube gelaai met die opskrif: “Wheelie bins do the strangest things!”

En hy had reg: hoe vreemd is dit nie dat die agterste drie dromme deur die lug trek, maar die voorstes staan botstil?

Gary vertel sy skoonsuster, Muriel, het die vorige dag by die huis gekom en die oprit besaai met vullis aangetref. Dis toe dat hulle die beeldmateriaal van die sekuriteitskamera fynkam om uit te pluis wat gebeur het.

Die voorval het in Liverpool in Groot Brittanje plaasgevind. Die stad het onlangs gebuk gegaan onder rukwinde van soveel as 110 km/h.

  • Die vlieënde vullisdromme herinner sterk aan ’n ander video wat laas week soos ’n veldbrand oor die internet versprei het waarin drie motors om geen skynbare rede deur die lug getrek het. Talle mense het omtrent kopgekrap om te probeer uitpluis wat gebeur het. Dit het intussen aan die lig gekom dat ‘n kabel wat dwars oor die teerpad gelê het, deur ‘n vragmotor wat die strate skoonvee se borsel opgeraap is. Toe die kabel styf span, het dit die drie motors deur die lug laat trek.

Bronne: Mirror.co.uk; CNN