Dierebeskermers op die eiland Borneo het hul hande vol om ’n baba-oerang-oetang aan die lewe te hou nadat die kleinding sy wil om te leef verloor het.

Die oerang-oetang, genaamd Udin, het al “verskeie kere probeer doodgaan” nadat sy ma heel waarskynlik deur wildstropers doodgeskiet is.

Die wildstropers het glo Udin se ma geskiet en gesteek terwyl sy alles gedoen het om haar kleinding te beskerm. Die stropers het toe die baba-oerang-oetang aan ’n boer as troeteldier verkoop.

Die boer het hom in ’n klein hokkie aangehou. Hy is eindelik na ’n oerang-oetang-sorgsentrum geneem, waar hy behandeling vir dehidrasie en wanvoeding gekry het.

Werkers daar het ál meer bekommerd geraak omdat klein Udin niks wil eet of drink nie. Hy het ook geen belangstelling getoon in sy nuwe omgewing nie.

Veeartse wat na Udin omsien, moet hom nou dag en nag dophou en slaap selfs langs hom sodat hy in die nag vertroetel kan voel soos wat sy ma hom sou vertroetel het.

“Udin het al verskeie kere probeer doodgaan, maar ons laat dit nie toe nie en hou net aan met hom speel sodat hy ons nie ignoreer nie. Hy moet ons leer vertrou en moet weet ons is sy enigste hoop op oorlewing,” het die veeartse in ’n verklaring gesê.

Gelukkig het Udin 10 dae nadat hy by die skuiling opgedaag het, in kos begin belangstel. Sy toestand is nou stabiel, maar hy kort steeds konstante versorging.

“Hy klou vas aan ’n groot teddiebeer, net soos hy aan sy ma sou vasgeklou het,” het die veeartse bygevoeg.

Bronne: Independent.co.uk; One Green Planet