Dít is hoe ware liefde lyk.

Toe die 92-jarige Howard Serena in die Tweede Wêreldoorlog gaan veg het, het sy vrou, Laura (93), vir hom die 1940’s-liefdeslied You’ll Never Know deur Alice Faye gesing.

Sy het die woorde daarvan aan haarself herhaal as troos wanneer sy alleen gevoel het terwyl hy in die oorlog geveg het. En nou, 73 jaar later, sit Howard langs haar bed en doen dieselfde vir Laura in haar laaste dae. Sy ly aan makulêre degenerasie en kan nie meer sien nie, maar het Howard gevra om haar vas te hou terwyl hy vir haar sing.

Die paartjie se kleindogter, Erin Solari, het die oomblik op kamera vasgevang. “Dit was die liedjie wat my ouma sou sing terwyl my oupa in die Tweede Wêreldoorlog geveg het. Dit is sedertdien hul liefdeslied. Ons familie is gelukkig om die liefde wat ons vir mekaar het met enigiemand te deel wat dit sal geniet,” het sy op haar YouTube-blad geskryf.

Laura staar in Howard se oë terwyl hy sing en oor haar gesig streel. Jy kan ook hoor hoe sy by tye saamsing. “Dis glad nie ongewoon vir die twee om vir mekaar te sing nie, veral by familiebyeenkomste. Hulle het ná 50 jaar se getroude lewe hul troubeloftes hernu en die liedjie vir die hele familie by die onthaal gesing,” skryf Erin.

Hou maar die snesies byderhand, want die video gaan jou ’n traan laat wegpink:

Bronne: News.com.au, YouTube