Die 39-jarige se baard is gewoonlik baie netjies, maar hy is onlangs al vir ’n geruime tyd met ’n baie yl baard gesien.

Dit is nie ’n styl waaroor almal juis opgewonde was nie, veral nie Victoria, sy vrou van amper 16 jaar nie. Sy het aan David ’n ultimatum gestel nadat sy vroeër vandeesmaand foto’s van hom in Florida gesien het met die ruwe voorkoms. “Ek was in Miami en toe Victoria die foto sien, het sy gesê: ‘Daar is geen manier dat ek jou gaan soen tensy jy daardie baard afskeer nie,’” het die gewese sokkerspeler aan die gasheer van The Late Late Show, James Corden, gesê. “Ek het dit vir ’n dag so gelos en toe gedink, wel, ek gaan dit maar moet doen”.

‘Daar is geen manier dat ek jou gaan soen tensy jy daardie baard afskeer nie.’

Victoria was dalk nie ten gunste van die baard nie, maar David kon op sy kinders staatmaak om hul goedkeuring te gee. Die paartjie is die ouers van die seuns Brooklyn (16), Romeo (12), Cruz (10) en ’n driejarige dogtertjie, Harper. “Die kinders was eintlik mal daaroor. My dogter het altyd net gesit en daarmee gespeel. Dit was die einde daarvan,” het David gelag.

Die aantreklike Brit het tydens sy verskyning op die geselsprogram ook oor sy gesin gepraat. Met sy oudste seun in die gehoor, het David die geleentheid gebruik om ’n vernederende oomblik vir die tiener te herroep – die tiener het iemand uitgeneem op Valentynsdag 2013, maar is vergesel van sy pa.

“Hy was omtrent 14 jaar oud, dit was Valentynsdag, en hy wou ’n meisie uitneem vir aandete,” het David verduidelik. “Ek het gesê dis doodreg, maar Victoria se reaksie was: ‘Regtig?’ Maar sy het toe gesê dis reg op die voorwaarde dat ek hom vat en in die restaurant sit. Ek het omtrent vyf tafels van hulle af gesit.”

Vir sy verskyning op die program het David ook ’n spottende onderklereveldtog saam met James gedoen. Albei mans het hul klere uitgetrek, en spottend die valse D&J-onderbroeke geadverteer.

© Cover Media