Kyk net hoe mooi groei dié twee Victoria’s Secret Angels se babamagies! Die Namibiese model Behati Prinsloo Levine en Candice Swanepoel, oorspronklik van Suid-Afrika, se kleingoed sal glo albei in September hul opwagting maak. Die twee skoonhede, wat boonop goeie vriendinne is, het onlangs nuwe foto’s van hul groeiende babamagies gedeel. Hulle gee duidelik nie om dat hul modellywe verander nie en straal behoorlik! Die 27-jarige Behati het Sondag op Instagram ’n foto gedeel waar sy ontspanne en kaalvoet in ’n mooi maksi-rok by ’n swembad staan met haar arm om haar magie.

Sy en haar wêreldberoemde man, Adam Levine, Maroon 5-hoofsanger en ’n beoordelaar op die gewilde Amerikaanse televisiesangkompetisiereeks The Voice, het ook pas hul tweede huweliksherdenking gevier. “Mine. Two years strong,” het Behati by ’n Instagram-foto geskryf waarop Adam sonder ’n hemp staan, maar met ’n serp om sy nek.

MINE ? 2 years strong

A photo posted by Behati Prinsloo Levine (@behatiprinsloo) on

“Ek is reg om pa te wword,” het Adam vroeër vanjaar aan Entertainment Tonight gesê. “Jy word gebore om ’n pa te wees; dis waarom ons hier is. Al die ander goed is fantasties, maar dis nie waarom ons hier is nie.” Hy is ook nie bang om die eerste keer pa te word nie. “As jy dit die eerste keer doen, is almal geneig om vir jou te sê wat jy moet doen,” het hy laggend vertel. “So ons sluit nogal baie hiervan uit en gaan dinge doen soos ons dit doen.” Die paartjie, wat in Julie 2014 getroud is, verwag ’n dogter, het Behati se pa, Boet Prinsloo, vroeër vanjaar uit Garsfontein in Namibië aan Huisgenoot vertel.
Candice en haar verloofde, die Brasiliaanse model Herman Nicoli, lyk ook in die wolke oor hul seuntjie wat op pad is. Hulle is al 10 jaar saam en het verlede jaar bekend gemaak hulle is verloof. Die verlowing is glo lank stil gehou. Candice hou haar volgelinge en aanhangers op die hoogte deur haar swangerskap op Instagram te dokumenteer.

Abençoada por deus. #blessed ?????

A photo posted by Candice Swanepoel (@angelcandices) on

Die slapies is nou min en met sulke mooi gene, is ons baie opgewonde om te sien hoe die twee skoonhede van Suider-Afrika se kleingoed gaan lyk.