Victoria Beckham het vir die sokkerster David Beckham ’n tatoe-geskenkbewys vir sy verjaardag gekoop.

Hoewel die modeontwerper nie dink haar man, wat reeds met 32 tatoes spog, het nog lyfink nodig nie, het sy hom tog op sy verjaardag op 2 Mei met ’n tatoe-geskenkbewys bederf. Victoria is so aangehaal: “Nie dat hy nog ’n tatoe nodig het nie. Ek het ook vir hom ’n paar Ralph Lauren-T-hemde, waarvan hy baie hou, gekoop.”

Onder David se baie tatoes is eerbewyse aan hul vier kinders – hul seuns, Brooklyn (14), Romeo (10) en Cruz (8), en hul dogter, Harper (2) – en Victoria se naam, wat in Hindi-skrif op sy voorarm geskryf is.

Harper se naam staan langs die voormalige Los Angeles Galaxy-speler se linkersleutelbeen, en ’n ontwerp wat aan sy drie seuns opgedra is beeld drie baba-engele uit wat Jesus dra.

Brooklyn se naam is op sy laerug, Romeo s’n is aan die onderkant van sy nek en Cruz s’n in die middel van sy rug onder die tekening van ’n bewaarengel.

David het al erken die tatoes wat met sy vier kinders verband hou, beteken vir hom die meeste. Hy het onlangs gesê: “My gunstelinge is dié van my kinders.”