WAAR sy deur die groenigheid in die boomryke Bloublommetjieskloof aangetrippel kom, het sy ’n ekstra huppel in haar stap.

En Vicky Davis (28) pas volmaak in die idilliese prentjie.

Die aktrise en Pasella-aanbieder woon sedert Februarie in ’n pragtige wit kothuis hier op die plaas buite Wellington.

Dis ’n biodinamiese boerdery, en selfs die diere het onder haar vel kom inkruip. Daar anderkant loop die varke Matthew en Matthew, beduie sy. ‘‘Ja, albei het dieselfde naam.’’ En doeriekant vreet die perde Panda en Imari hulle knuppeldik aan die gras.

Igor die plaaskat kom klouter gereeld op haar skoot, strek hom luilekker uit en skimp vir ’n streelbederfie. “Dis asof ek altyd alle katte na my toe aantrek, oral waar ek gaan,’’ sê Vicky.

Bloublommetjieskloof is vir haar ’n kopskoonmaakplek, vertel sy, terwyl sy koffie aandra en Igor weer nader staan vir aandag.

Sy wys na ’n oulike wit huisie oorkant haar blyplek. ‘‘ ’n Mens kan daar melk, eiers en kaas koop, tot sjampoe – alles natuurlik organies.’’

Tog lei hierdie inwoner van Bloublommetjieskloof geen luilekker niksdoenlewe nie. Sy is dol oor haar joppie by Pasella wat haar ook meestal die besigste hou, maar tussen die TV werk deur speel sy rond en bont in die Wes-Kaap in die verhoogstuk Katvoet, ’n verwerking van Riana Scheepers se kortverhaalbundel met dieselfde naam.

En sy is uit haar vel oor ’n opdragstuk met haar as regisseur vir aanstaande jaar se KKNK op Oudtshoorn.

Teken in op Huisgenoot