Die party het toe by hul verkiesingskongres vir Dr. Pieter Groenewald gekies om by Mulder oor te neem, berig EWN.

Mulder het sy aanvanklike skokbesluit om homself nie weer verkiesbaar te stel nie op Twitter bevestig waarna die party ’n verklaring op hul webtuiste gedeel het.

Volgens die verklaring is Mulder vanjaar reeds 15 jaar lank leier van die VF Plus nadat hy in 2001 onbestrede as leier verkies is na genl. Constand Viljoen se uittrede. Die rede vir sy besluit om as leier uit te tree, is omdat hy nie van plan is om aan die verkiesing in 2019 deel te neem nie. Hy meen dis meer regverdig om ’n nuwe leier nou die geleentheid te gee om hom voor dan te vestig. Hy is wel bereid om vir ’n oorgangstydperk as VF Plus-parlementslid aan te bly. Dit sal vanjaar Mulder se 28ste ononderbroke jaar as parlementslid wees nadat hy in Maart 1988 vir die eerste keer verkies is. Dit maak hom die parlementslid met die langste ononderbroke diens in die huidige parlement.

Dis nog onduidelik presies wanneer Groenewald by Mulder gaan oorneem as leier van die VF Plus.