’n Woordewisseling het tussen die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Mulder, en die sanger Bobby van Jaarsveld op Twitter uitgebreek ná die sanger-akteur in 'n brief aan Beeld erken het hy gaan vir die DA stem.

“[D]is al wie die ANC onder die anus kan skop,” het Bobby gesê.

Pieter het op Bobby se twiet reageer en gesê: “Bobby, [dis] jammer as [’n] kunstenaar wat v[ir] Afr[ikaans] leef en waarna ek luister, so kant kies teen [die] VF[+]. Miskien [moet jy] by musiek bly!

“[Daar is] ongelukkig baie ernstige keuses wat Afr[ikaans], Christelike waardes, ens. [in die] volgende [vyf] j[aa]r bepaal. Jy kan DA kies en ek my mening gee.”

Hy het ook gesê: “Hy (Bobby) leef v[ir] Afr[ikaans], maar kies DA wat in [die] Parlement nie vir Afr[ikaans] veg [nie]. Hou liewer by musiek – moet [nie] pol[itieke] onkunde wys [nie].

In antwoord op Pieter se twiets het Bobby geskryf: “So dis hoekom hulle sê ‘moenie betrokke raak by politiek nie’. O well, you win some, you lose some.”

Hy het ook vir Pieter gesê: “Mnr. @pieter_mulder, ek het baie respek vir jou en wat julle doen vir Afr[ikaans]. Ek is jammer jy voel so. Dit was nie my stelling nie, [dit] was [’n] SMS. Nag.”

Bobby het nie weer gereageer toe Pieter sê hy het ’n lys van kunstenaars wat gesê het hulle sal vir die VF+ stem nie.

“Omdat ek hul beroep verstaan, hou ek die lys vertroulik,” sê hy.

– Christiaan Boonzaier

LEES BOBBY SE BRIEF IN BEELD HIER