Ryan Seacrest hou ’n ou jean in sy kas om hom te herinner aan hoe “mollig” hy voorheen was.

Die American Idol-aanbieder was nie altyd so skraal soos nou nie en erken hy hou ’n paar jeans in sy kas om hom aan daardie dae te herinner.

Ryan (38) het aan Life & Style gesê: “Die oudste ding in my klerekas is ’n jean wat ek gedra het toe ek nog ’n mollige outjie was. Dit spoor my aan om te oefen.”

Al sorg Ryan nou dat hy fiks bly, bly hy steeds mal oor “warm koekies met sjokoladestukkies in”.

Asof die broek nie motivering genoeg is nie, het stories onlangs begin loop dat Ryan nou ogies maak vir die lenige Sports Illustrated-model Dominique Piek.

Ryan, wat in April ná drie jaar saam uitgemaak het met die aktrise Julianne Hough, is al drie keer op afsprake met Dominique gesien. Iemand in die binnekring vertel hoewel die twee mekaar nog net leer ken, “kom Ryan baie goed oor die weg” met Dominique.