Brandbestryders het na ’n skool in Kuala Lumpur in Maleisië gehaas om die brand, wat in ’n drieverdiepinggebou ontstaan het, te blus.

Met hul aankoms op die toneel was 90% van die gebou reeds aan die brand, berig CNN.

Amar Singh, ’n polisiehoof van die Maleisiese hoofstad, sê met hul aankoms op die toneel het hulle op die gruvonds van 24 verkoolde lyke afgekom, berig Metro.

Onder die slagoffers was 22 seuns, van tussen 13 en 17 jaar, en twee onderwysers.

Die oorledenes is na bewering binne die godsdiensskool se gebou vasgekeer en kon nie ontsnap aan die vlamme nie.

Die vuur het by die ingang van die seuns se koshuis ontstaan en daar was geen ander manier om na buite te vlug nie omdat diefwering aan al die vensters aangebring is.

Luidens berigte was die lyke van die seuns op mekaar gestapel. Vermoedelik het hulle bo-op mekaar geklim om aan die vlamme te ontsnap.

Die slagoffers het vermoedelik versmoor.

Agtien mense het die voorval oorleef, onder wie 14 studente en vier onderwysers.

Die oorsaak van die brand is vermoedelik ’n elektriese kortsluiting.

Bronne: Metro, CNN, Twitter