Jamie Dornan het bewerings afgemaak dat hy nie in ’n opvolg van Fifty Shades of Grey gaan speel nie nadat Dinsdag berig is die 32-jarige akteur van Noord-Ierland het die franchise “die rug gekeer”. Die fliek is gegrond op die eerste van drie romans deur E.L. James.

Die Australiese tydskrif NW het berig Jamie, wat die hoofrol vertolk Christian Grey teenoor Dakota Johnson (Anastasia Steele), het ter wille van sy vrou besluit om nie in die twee opvolgflieks te speel nie.

’n Woordvoerder vir die akteur het egter aan E! News gesê: “Al die berigte is blote gissings aangesien die ateljee hom nog nie tot ’n opvolg verbind het nie.”

Volgens NW was Jamie se vrou, die Britse aktrise Amelia Warner (32), ongemaklik met die eksplisiete sekstonele in die fliek.

Amelia, wat ’n 15 maande oue dogter by die akteur het, sukkel boonop glo ook met die feit dat die fliek haar man in ’n internasionale sekssimbool omskep het. “Jamie het gesê die fliek sal sy loopbaan ’n reuse hupstoot gee,” het iemand in die binnekring aan die tydskrif gesê.

“Hy het Amelia probeer verseker niks sal verander nie, maar vroue oor die wêreld heen begeer hom nou. Amelia het nog nie die fliek gekyk nie, en om eerlik te wees, ek dink nie sy gaan nie.”

Die tydskrif het ook beweer Jamie het nie met Dakota oor die weg gekom nie, en dis nog een van die redes hoekom hy nie in die opvolgflieks wil wees nie.

Dis nie die eerste keer dat gerugte kop uitsteek dat die twee nie goed oor die weg kom nie. “Jamie dink sy spel was nie te sleg nie – hy blameer Dakota en sê dit was onmoontlik om ’n vonk met haar te hê,” sê die bron. “Hy sê Dakota het hom niks gegee om mee te werk nie.”

© Cover Media