Prins Charles van Brittanje se opgewondenheid toe hy ’n speelgoedbus as ’n geskenk kry, het tot bespiegeling gelei dat sy toekomstige kleinkind dalk ’n seun is. Die eersteling van prins William, die 64-jarige Charles se seun, word aanstaande maand verwag. Toe Charles die modelbussie tydens ’n besoek aan ’n busfabriek op Ballymena in Noord-Ierland ontvang, het hy so ewe gesê dit kan ’n “noodspeelding” vir die ongebore baba wees. Volgens die Belfast Telegraph is die opmerking vertolk as ’n skimp dat die kind, wat die derde aanspraakmaker op die troon sal wees, ’n seun gaan wees.  Charles se vrou, Camilla (65), was op Dinsdag 25 Junie saam met hom by die Wrightbus-fabriek. Daar het hulle op een van 600 rooi dubbeldekkerbusse met hibried-enjins geklim wat vir toeriste in Londen bestem is. Die egpaar het ook deur die aanleg gestap voor hulle van die vakleerlinge en die onderneming se medestigter ontmoet het. Ian Hutchinson, wat die vakleerlinge oplei, het opgewonde gesê: “Ek werk al 36 jaar lank hier en dis ’n wonderlike dag vir die onderneming dat prins Charles hierheen gekom het. Dis ’n dag wat ek baie lank sal onthou – en hopelik die jonger vakleerlinge ook.”