Die meeste van ons kan nie wag om skoene uit te skop en ons loopbane vaarwel toe te roep wanneer ons eendag aftree nie. Dis dalk die enigste rede waarom jy skaars kan wag om jou 60’s te bereik, want dan weet jy die salige lewe as afgetredene is naby. Maar een bejaarde glo aftree is vir die voëls. Joe Bartley van die dorpie Paignton in Engeland het onlangs sy 89ste verjaardag gevier. En die senior burger meen hy is besig om dood te gaan van verveeldheid. Daarom het Joe onlangs ’n advertensie in sy plaaslike dagblad laat publiseer. “Werk gesoek. Senior burger. 89 jaar oud. Soek werk in die Paignton-gebied. 20+ ure per week. Kan nog skoonmaak, ligte tuinwerk doen, DIY-projekte en enigiets.”

En net indien iemand sou twyfel in sy bekwaamheid, voeg hy by: “Verwysings beskikbaar.” Volgens Metro is die oudsoldaat moeg daarvoor om by die huis te sit en niks te doen nie. Trouens, Joe meen dis asof hy in alleenaanhouding leef sedert sy vrou twee jaar gelede oorlede is. Joe vertel hy was nog altyd ’n aktiewe mens en nog nooit ’n televisiekyker nie. “Ek lees graag, maar jy kan dit nie heeltyd doen nie,” vertel hy. Hy meen hy sal graag net so vyf uur per dag wil werk – genoeg om sy huur mee te betaal.

Joe het eers op 83 afgetree. Hy het sy lewe lank as uithangbordvervaardiger gewerk. “Ek oorleef tans van ’n toelaag van die staat, maar ek sal veel eerder my eie geld verdien soos ek my lewe lank gedoen het. In daardie opsig is ek oudmodies.” Net 'n paar dae nadat Joe die advertensie geplaas het, het hy vir 'n onderhoud by 'n plaaslike koffiekroeg gegaan wat daar en dan vir hom 'n werkie aangebied het. Aanhouer wen!

A video posted by ITV News (@itvnews) on

Bronne: Metro; The Guardian