Johannesburg –

[caption id="attachment_108111" align="alignnone" width="600"]Hierdie is die foto wat soos 'n veldbrand op Facebook versprei het. Hierdie is die foto wat soos 'n veldbrand op Facebook versprei het.[/caption]

Die middeljarige man, net bekend as mnr. Mike, besoek die afgelope agt jaar die Wimpy op Hartbeespoort en kry die laaste tyd laatmiddag daar ’n koppie koffie.

Woensdag, toe Jacques en sy seun die restaurant besoek vir iets om te eet, het hy besluit om vir mnr. Mike ’n maaltyd anoniem te koop.

?Hy het gaan sit en die kelner het hom ’n glas water gebring. Aan die manier waarop hy en die kelner met mekaar gesels het, kon jy agterkom hy kom gereeld hier.

?Ná ’n rukkie het ek die kelner nader geroep en gevra: ‘Wat is hierdie kêrel se storie?’ en hy het vir my gesê: ‘Dis mnr. Mike, hy bly hier in die bos, maar die bestuur van Wimpy Harties gee hom elke middag ná 17:00 ’n koppie koffie’.”

Glimlag

Jacques vra toe die kelner om vir Mike ’n bord kos te bring met die versoek dat hy nie sê wie daarvoor betaal nie.

Hy sê mnr. Mike het geglimlag toe die kelner die bord kos bring en toe baie lank gebid. “Dit was ’n spontane glimlag wat deurgebreek het. Hy wou die kelner selfs ’n fooitjie gee – jy kan dit nie glo nie! Ek was verstom.”

“Hy het sy bril afgehaal en oor die kos gebid. Dit was nie ’n haastige vyfsekonde-gebed nie; dit het langer as ’n minuut geduur en hy het nie omgegee wie hom aanstaar nie. Ek het eenvoudig besef hoe ondankbaar ons soms is.

“Hier is ’n kêrel wat oënskynlik alles in die lewe verloor het. Dit maak nie saak wat gebeur het en hoekom hy op straat beland het nie; hy ruim steeds tyd in om God te dank vir ’n bord kos wat hy ontvang het.”

Jacques sê die man se reaksie op die maaltyd het gehelp om hom opnuut dankbaar te maak vir wat hy het. “Die les wat hy my geleer het, is om dankbaar te wees, want ons kla tog alte maklik, nie waar nie?”

Jacques is ’n pastoor by Galilean Evangelical Ministries en werk as skofopsiener by die Lonmin-myn by Rustenburg in Noordwes.

Oorstelp

Hy het Woensdagaand ’n foto van mnr. Mike op sy Facebook-blad gelaai en teen Donderdagmiddag was dit oorlaai met vriendversoeke, inmandjieboodskappe en boodskappe op sy muur wat hom prys as ’n barmhartige Samaritaan.

“Ek was absoluut oorweldig. Ek werk hier op Marikana by die myn, dus was my selfoon die grootste deel van die oggend afgeskakel. Maar toe ek opkom uit die myn en die foon aanskakel, sien ek net hierdie yslike terugvoer.

“Ek moes die kantoor verlaat en in die badkamer gaan wegkruip, want ek het gehuil,” lag hy.

“Kyk net wat gebeur in die man se lewe. Dit is net ’n klein plasing wat jou vyf minute gekos het om te skep; jy plaas dit en dit het ’n uitwerking soos dié op ’n mens se lewe, en dan spring mense eenvoudig op en dryf dit voort.”

Volgens Taki Nekhumbe, ’n bestuurder by die Wimpy-restaurant, besoek die mnr. Mike die restaurant al die afgelope agt jaar. Hy kom elke dag tussen 16:00 en 19:00 in en lees al die koerante. Iewers in die winter het Taki besluit om die man ’n koppie koffie aan te bied.

“Hy het daar sit en koerant lees. Nadat jy met iemand praat, begin jy hom ken; ek het hom net ’n koppie koffie gegee omdat hy langer as drie ure daar gesit het.

“Toe begin dit ’n ritueel word. Al die bestuurders het dit in elk geval gedoen omdat dit slegs filterkoffie is en dit sal niemand bankrot maak nie,” vertel Taki.

Geseënd

Hy sê minstens een keer per maand bied iemand aan om vir mnr. Mike ’n ete te koop.

“Hy is altyd opgewonde en verras. Hy is baie bly; hy voel op ’n manier geseënd. As jy soms so ’n maaltyd ontvang, voel jy geseënd.”

Taki is nie seker of hy mnr. Mike sal vertel van sy skielike beroemdheid op sosiale media nie, want hy is ’n trotse en privaat mens.

“Ek het dit oorweeg, want ’n vrou het my gebel en ’n Wendy-huis en sulke dinge aangebied, maar ek het toe aan haar verduidelik dat hy nie van dié soort goed hou nie.

“Jy moet ’n vriend gebruik om met hom te kommunikeer; jy kan nie net sê jy soek publisiteit nie. Jy moet hom op ’n persoonlike grondslag ken. Dit is die soort man wat hy is.”

Hy sê hy het probeer uitvind wat tot sy haweloosheid gelei het, maar hy kon geen inligting uit hom kry nie.

“Hy moet so tussen 50 en 60 jaar oud wees. Ek is bekommerd oor hom, want hy lyk oud en eensaam. Hy sê hy bly in ’n tent, maar ek was nog nie daar nie.

“Langs ons Wimpy is ’n voetpad wat na die bosse lei, dus bly hy daar. Hy sê hy bly in ’n tent en die skoolkinders steel af en toe al sy goed daar.

“Hy kom met ’n groot sak en dra al sy besittings – dit is soos ’n groot kampeersak met sy borde en alles daarin, want hulle steel dit. Dit is nie goed nie,” sê Taki.

Teen Vrydagoggend het byna 3 000 mense al van ’n Mike Wimpy Donations-blad gehou wat geskep is nadat Jacques se plasing so gewild geword het.

Party mense het gevra of ’n bankrekening geopen kan word sodat hulle geld kan skenk om seker te maak die man kry elke dag ’n maaltyd.

Volgens Taki moet die eienaar van die restaurant nog bevestig wie die rekening sal open en behartig.

Bron: News24