Fokofpolisiekar-aanhangers smag duidelik na nuwe musiek van dié rockgroep.

[caption id="attachment_167136" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook/ Fokofpolisiekar Foto: Facebook/ Fokofpolisiekar[/caption]

Binne nege dae het die groep se aanhangers meer as R500 000 ingesamel om ’n nuwe album ’n werklikheid te maak.

Die Polisiekarre het ’n bietjie meer as ’n week gelede ’n skarefinansieringsprojek begin sodat hulle hul eerste album in 11 jaar kan vervaardig.

Hul mikpunt was R500 000, maar teen Dinsdagoggend het die groep reeds R570 000 in die sakkie gehad, het hulle in ’n verklaring bekend gemaak.

Die kitaarspeler Johnny de Ridder sê in die verklaring hulle is uiters dankbaar teenoor hul lojale ondersteuners. “Ons het glad nie verwag om so baie geld in so min tyd in te samel nie. Of dit nou T-hemde of getekende plakkate is wat verkoop is; dis gedoen en ons is dankbaar.”

Hoewel die groep meer as R500 000 ingesamel het, is nog net 446 eenhede van die album vooraf verkoop.

Volgens die verklaring het die groep nog 47 dae oor om op Thundafund geld in te samel en nóg albums vooraf te verkoop.

Die groep beloof ook om ’n gratis konsert in Kaapstad te hou indien hulle die R700 000-merk bereik. As hulle by R800 000 uitkom, gaan hulle ook ’n gratis konsert vir aanhangers in Gauteng hou.