Tandsiektes is die grootste gesondheidsprobleem onder katte en honde van drie jaar en ouer. Cedric Tutt, ’n veeartsenykundige spesialis in tandheelkunde, verduidelik hoe om jou troeteldier se bek gesond te hou:

  • Borsel daagliks “Borsel is die beste manier om plaak te verwyder. As dit nie verwyder word nie, verhard plaak tot tandsteen en moet dit onder algemene verdowing verwyder word.”
  • Spesiale kosse “Soek ’n hondekos wat vir diere met mondgesondheidsprobleme geformuleer is. Dit bevat ’n spesiale vesel wat keer dat die koekie verbrokkel wanneer dit gebyt word en dit sal help om die tande skoon te maak.”
  • Speelgoed en peuselhappies “Hoewe en bene blyk een van die grootste oorsake van tandfrakture te wees. Frisbees van harde plastiek is ook nie ideaal nie. Gebruik liewer sagter speelgoed wat van rubber of tou gemaak is.”
  • Jaarlikse ondersoek “Vra die veearts moet tydens jou troeteldier se jaarlikse besoek ook sy bek ondersoek. As jy agterkom jou hond se asem ruik sleg of sy tandvleis bloei, moet jy hom dadelik veearts toe neem.”

Paws24

Alles wat jy nodig het om jou troeteldier se tande te borsel:

  • Geduld Begin jou troeteldier se tande borsel wanneer hulle nog jonk is en probeer dit ’n genotvolle ervaring maak. Moenie jou hond probeer oorweldig of hom straf as hy hom teësit nie. As jy hom dwing om dit toe te laat, sal hy net nog minder daarvan hou, en hy kan selfs aggressief raak om jou af te skrik. Laat liewer jou hond geleidelik en sagkens gewoond raak aan tande borsel.
  • Die borsel Jy kan tandeborsels vir honde by ’n goeie troeteldierwinkel kry. Ander moontlikhede is borsels wat om jou vinger pas en spesiale tandsponse. Jy kan ook ’n stuk skoon gaas ’n paar keer om jou vinger draai.
  • Die pasta Gebruik net tandepasta wat vir honde gemaak is. Eksperimenteer met ’n paar geure. Lewer en grondboontjiebotter is gewoonlik gewild.
  • LET WEL! Moenie tandeborsels en tandepasta gebruik wat vir mense bedoel is nie; dit kan skadelik vir honde wees.