’n Vrou van Rietspruit dagvaar die LUR vir gesondheid in Noordwes vir byna R2 miljoen nadat sy mislukte servikale operasies ondergaan het, the The Star Vrydag berig.

“Die eis behels mediese, hospitaal- en verwante behandeling in die verlede en toekoms, verlies aan verdienste of verdienvermoë in die verlede en toekoms en algemene skadevergoeding vir pyn en lyding,” het Jean-Paul Rudd van die regsfirma Adams & Adams gesê.

In 2009 het Catherine Mokale pyn in haar buik gehad. ’n Ginekoloog het haar vertel sy het stadium-drie servikale intra-neoplasie (SIN) en haar baarmoeder moet verwyder word.

SIN verwys na veranderinge in die serviks wat dalk servikskanker kan voorafgaan.

Sy het ’n histerektomie ondergaan en twee jaar later weer pyn begin voel. Sy het vir ’n ondersoek gegaan en het gehoor sy het siste op haar eierstokke.

Sy het in 2012 ’n operasie ondergaan en is ’n “stuk lap in my gelos”, het sy aan die koerant gesê.

Catherine het daarna ’n reuk by haar privaat dele opgelet en het gesukkel om te urineer. Sy het die depper self uitgehaal.

Sy het ’n klag by die hospitaal ingedien en is geroep vir ’n vergadering. Sy was nie tevrede met die uitkoms nie en het die openbare beskermer genader.

Nog ’n vergadering met die hospitaal is gereël en sy het gehoor haar lêer is vermis en hulle kan nie nog ’n operasie sonder ’n nuwe een uitvoer nie.

Catherine is ’n informele werker by Pick ’n Pay en onderhou haar seun en haar gestremde ouers.